O O R S I G

TERUGBLIK
Gedurende die sewentigerjare is Hennopspark, as voorstad van Centurion, gekenmerk deur ‘n baie sterk landelike karakter. Aan die grense van die jong, ontwikkelende gebied was dit nie ‘n vreemde gesig om skape in die middel van die pad aan te tref nie, of ‘n kar te sien wat gaan staan het in die middel van die laagwaterbruggie nie…
In 1981 is die wense van die groeiende getal inwoners van Centurion bewaarheid, toe ‘n Afrikaanse laerskool in Hennopspark opgerig is.
Laerskool Hennopspark het op 7 Januarie 1981 sy deure geopen met Meneer J.J Grové, as hoof, nege leerkragte en twee honderd sewe en veertig kinders. Die skool word op 26 November amptelik in gebruik geneem deur professor Jooste.
1 Januarie 1982 aanvaar Meneer Dawie van Heerden die pos as eerste hoof.
Onder sy leiding het die skool van krag tot krag gegaan. Een van die sterkste eienskappe van die nuwe skool was die sterk ouergemeenskap wat die skool op hulle hande gedra het van meet af aan.
Laerskool Hennopspark is vandag ‘n monument vir hoofde, leiers, ouers en onderwysers, wat bereid was om hulle harte vir die kinders van hierdie gemeenskap te gee.
1 Januarie 2010 het weer vir ‘n belangrike draaipunt in die skool geskiedenis gesorg, toe meneer Jannie Raath as hoof aangestel is na die aftrede van meneer Dawie van Heerden. Die skool het met rasse skrede gegroei sedert die beginjare. Daar is tans ongeveer 1900 leerders en 150 opvoeders.
Na al die jare is dit steeds die strewe van ‘n toegewyde personeelkorps, in vennootskap met ouers wat nie skroom om betrokke raak nie, om as skool lig van Sy Lig in die gemeenskap te wees.
EREKODE
Met hierdie waardes as fondament, verbind almal wat by Hennopspark betrokke is, hulle graag aan die volgende:
‘n HENNOPSPARKER
- Praat altyd positief van sy medemens.
- Respekteer die integriteit, besittings en menswees van mede–skoliere, opvoeders en ouers.
- Respekteer hulle meerderes, minderes, gaste en tree hoflik teenoor hulle op.
- Tree altyd vriendelik op teenoor mede-skoliere, opvoeders en besoekers.
- Reik uit na diegene om hulle, wat fisiese-, emosionele- en akademiese nood ervaar.
- Vertoon gedrag, optrede en lojaliteit waarin die ryke tradisie van die skool weerspieël word.
- Beskerm en bewaar die geboue, terrein en eiendom van die skool.
- Stel sy talente en gawes met passie tot beskikking van die skool.
- Gun sy mede-skoliere prestasie en respekteer die feit dat elke persoon oor sy eie talente beskik. Daar word nooit neergekyk op ander nie.
- Handhaaf en koester sy moedertaal. Gebruik daarom ook nie vuil taal nie.
- Tree oral met waardigheid op as ambassadeur van sy skool en skooldrag.
- Tree te alle tye soos ‘n volgeling van Jesus op, omdat hy sy Christenskap bely.
WAARDES
Liefde
Om liefde te lééf is Laerskool Hennopspark se kernbesigheid. Personeel wat ‘n onblusbare liefde vir hulle werk en roeping uitstraal, kan kinders motiveer om passievol te dink oor hulle eie doelwitte en die ontwikkeling van hulle moontlikhede. Kinders leer oorwegend deur modellering en daarom is dit belangrik dat die personeel van ‘n skool begrip en empatie sal uitstraal in hulle omgaan met kinders. Liefde is ‘n werkwoord en deur dit in opregtheid uit te leef, maak mens dissipels van hulle wat God aan jou toevertrou het.
“Devotion to the motion equals the emotion.”- Onbekend
Respek
Respek is ‘n gesindheid, die basis van ‘n gesonde samelewing. Die betoning van respek word nie bepaal deur emosie nie, dit word onvoorwaardelik gegee. Die ware koste van respek is prysloos, dit hoef nie verdien te word nie. Dit het Jesus deur Sy lewe en leer aan ons bewys.
“Respek vir onsself is die riglyn vir ons morele waardes, respek vir ander mense is die riglyn vir ons optrede en maniere.” – Laurence Sterne
Geloof
Dit is nie net ‘n persoonlike saak nie, dit raak die ouers, kinders en samelewing van Laerskool Hennopspark. Dit beteken om na die stem van die Heilige Gees te luister en daarvolgens te lewe en te werk, omdat ons vas op God vertrou om ons gehoorsaamheid aan Hom deur goeie en slegte tye te seën. Wanneer ons elke nou-en-dan terugkyk, weet ons dat God ons geseën het, dinge het goed uitgewerk, al het dit soms nie so gevoel nie en al was die stryd soms lank en swaar. Hy was deur alles met ons. So stap ons met ons kinders ‘n pad van geloof. Geloof is om deur Christus te lewe!
“Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê.” Gal. 2:20
“The plans of all men lead to a hopeless end, God’s plan lead to an endless hope.”- Willem van der Waal
Uitnemendheid
Uitnemendheid begin met die stel van doelwitte wat groot genoeg is, sodat dit die moeite werd is om na te streef. Doelwitte wat ‘n beduidende verskil kan maak in die uitvoer van ons planne om ons kinders se moontlikhede optimaal te verwesenlik.
“Die kwaliteit van ons verwagtinge bepaal die kwaliteit van ons aksies.” (Andre Godin)
Om uitnemendheid te bereik impliseer dissipline, die daaglikse inoefening van vaardighede, ‘n bereidheid om te leer sodat innerlike groei kan plaasvind. Dit impliseer uithouvermoë. In die opvoedingsituasie verg dit geduld, begrip en insig om kinders sodoende te begelei dat hulle hulle persoonlike doelwitte en drome kan nastreef en bereik deur ‘n groeiproses na uitnemendheid.
“The price of excellence is discipline. The cost of mediocrity is disappointment.” – William A. Ward
Integriteit
God stel meer belang in ons Goddelike karakter as in ons reputasie en aardse skatte. Integriteit verwys na ons innerlike karakter en die manier wat ons ons gelykvormigheid aan God uitleef, al is ons gedrag nie sigbaar vir ander mense nie. Opregtheid, eerlikheid, deursigtigheid, getrouheid aan wie jy is… Dit is sommige van die beginsels van integriteit. Dit beteken ook om te staan vir dit waarin jy glo en nie te konformeer onder groepsdruk nie. Dit vra ook van jou om eerlik te wees met jouself ten opsigte van jou persoonlikheid. Integriteit is nie te koop nie, dis ‘n besluit om te neem.
“As jy integriteit het, is jy bereid om jouself te wees, ten spyte van jouself, ter wille van ander, ongeag die situasie.” – Mnr Muller
BELEID
Verskeie departementele beleide, asook ander beleide wat gebaseer is op die Skolewet, is altyd vir ouers ter insae in die administratiewe kantoor van die hoof.
Verskeie beleide van die skool is op die webblad ter insae, aangesien dit die belangrikste riglyne bevat ten opsigte van die beskerming van regte van die verskillende partye betrokke by die skool, asook ‘n klimaat van samewerking en vertroue skep. Die skool se kleredragbeleid is ook hierin vervat. Maatreëls wat toegepas moet word vir die beveiliging van ons skool en kinders kom ook hierin voor.