
- Alle werk wat geassesseer moet word, hetsy in toetse of eksamen, sal volledig in die klaskamer behandel word wanneer die skole weer begin, wanneer dit ook al is (op hierdie stadium hou ons by die president se 21 dae tydsraamwerk). Dit dien geen doel om allerlei hipoteses of alternatiewe planne aan te kondig as ons nie seker is van ons feite nie. Sou die staat van inperking se tydsraamwerk verander, sal ons dien ooreenkomstig daarby aanpas, en u daarin ken.
- Ons is bevoorreg om Google Classroom as deel van ons inligtingstegnologie-pakket te hê, en ons sal dit gebruik wanneer- en soos dit nodig sou wees. Terwyl ek siek was verlede jaar, het ek dit self gebruik om “remotely” my klasse aan te bied. Dit is maklik, gebruikersvriendelik en gratis.
- Afstandsonderrig is net suksesvol wanneer dit op ‘n gekontroleerde, gesinchroniseerde manier aangebied word, waartydens ALLE leerlinge en personeel GELYKTYDIG toegang daartoe het. Die feit is egter dat, op hierdie stadium, almal in Hennopspark nog nie daardie luukse het nie. Wanneer dit nodig sou wees om afstandsonderrig te implementeer, sal ons seker maak dat almal toegang daartoe het met behulp van ons IT-span.
Jannie Raath
Uitvoerende Hoof Laerskool Hennopspark
Liewe kinders
Ek hoop dat dit goed gaan met julle! Julle is elke dag in my gebede, en ek dank die Liewe Heer elke dag dat ons met wonderlike jong mense soos julle mag werk. Ons bid ook elke dag vir elkeen van julle – dat die Here julle gesond sal hou in hierdie tyd, en dat Hy met julle ouers en gesinne sal wees.
Ek het ‘n lang brief vir jou ouers geskryf – jy kan hulle vra waaroor – en nou wil ek vir jou ‘n paar dinge sê. Jy moet verstaan dat, wanneer die skool weer oopmaak na hierdie “shutdown”, ons baie werk gaan hê om te doen. Die Junievakansie gaan heelwat korter wees as gewoonlik, en al die werk wat ons nie nou kan doen nie, gaan gedoen moet word teen ‘n redelike pas as ons teruggaan.
Daarom is dit baie belangrik dat jy jouself voorberei vir harde werk as ons terugkom skool toe – rus ordentlik, en kry jou ingesteldheid reg om regtig ‘n groot taak aan te pak.
Ek het huiswerk vir jou vir die volgende drie weke, en ek verwag van jou om dit te doen. Ons gaan definitief kyk of jy gehoorsaam was aan hierdie huiswerkopdrag as ons terug by die skool is.
- JY MOET ELKE DAG TEN MINSTE 20 BLADSYE LEES. Jy kan uit enige boek lees – ‘n storieboek, die koerant, die Bybel, of enige ander bron van leesmateriaal. Ek het vir jou pa en ma gevra om vir jou vrae te vra oor dit wat jy gelees het, sodat hulle kan sien of jy verstaan wat jy gelees het. Dit is nie om dit sleg vir jou te maak nie, maar JUIS OM JOU TE HELP. As jy goed kan lees, kan jy makliker leer. As jy makliker leer, kan jy vinniger leer. As jy vinniger kan leer, kry jy beter punte. As jy beter punte kry, is daar NIKS wat jou kan stop nie. Ek weet dis nie altyd lekker om te lees nie, maar jy MOET. Dis vir jou eie beswil.
- JY MOET ELKE DAG TEN MINSTE 1 VAN JOU VERMENIGVULDIG-TAFELS LEER. As die skool weer begin, moet jy jou tafels op die punte van jou vingers ken – ek verwag dit van jou. Jy het nou baie tyd om dit te doen – daar is nie ander huiswerk of leerwerk nie. Leer dit nou ordentlik, en jy sal dit NOOIT weer hoef te leer nie. As jy jou tafels ken, is Wiskunde sommer baie makliker.
Ons is lief vir julle; ons mis julle; en ons kan nie wag om julle weer te sien nie. Pas jouself mooi op, sodat ons, wanneer die skool begin, soos altyd net ons beste kan gee.
Ons beste wense vir jou.
Jannie Raath
(namens al jou onnies)