Skip to content

AKADEMIE GRONDSLAGFASE

Basiese Akademiese Vaardighede

Die doel van onderrig in die Grondslagfase is die aanleer en vaslegging van die basiese vaardighede wat leerders gaan benodig om die Intersenfase te kan betree. Die inhoud van die vakke in elke graad word so saamgestel dat leerders se basiese kennis en vaardighede op kognitiewe vlak progressief ontwikkel. Die ouer speel in samewerking met die personeel ‘n groot rol om te verseker dat leerders oor die nodige kennis beskik om die oorgang na ‘n volgende fase te vergemaklik. Die aanleer van klanke, spelling, lees en lees met begrip is essensieel ten opsigte van die begrip van alle ander vakke. Leerders se woordeskat moet daagliks verryk word. 

Die inhoud van die vak Lewensvaardigheid, waarby ʼn paar ander vakke van die Intersenfase op ‘n eenvoudige wyse geïntegreer word, speel hier ʼn belangrike rol. Wat Wiskunde betref is dit van uiterste belang dat leerders konsepte begryp, alvorens hulle metodes aanleer. Kombinasies van getalle, die aanleer van tafels en die herhaling van aangeleerde konsepte is aspekte waarmee ouers hulp kan verleen. Die elemente van kuns en musiek word op kreatiewe wyse aangeleer. Motoriese ontwikkeling bly die basis van alle akademiese leer.

LEERPROGRAM

Vakke

Die CAPS-kurrikulum word gevolg.

  • Afrikaans Huistaal
  • Engels Eerste Addisionele Taal (Graad R bied Engels op informele basis aan.)
  • Wiskunde
  • Lewensvaardigheid
    • Persoonlike en Sosiale Welsyn/Aanvangskennis
    • Liggaamsopvoeding
    • Skeppende Kunste: Uitvoerende Kuns Musiek/Drama, Visuele Kuns
  • Addisionele Vakke
    • Rekenaars
    • Media

Emosionele en Sosiale Ontwikkeling

Dit is reeds ʼn bekende feit dat ʼn hoë intelligensie kwosiënt nie ʼn waarborg vir sukses is nie. Kinders moet gedrag aanleer wat hulle sosiale- en emosionele kwosiënt kan verhoog. Dit kan alleenlik gebeur deur die uitlewing van waardes wat in gedrag weerspieël word. Die konsekwente herhaling van aanvaarbare gedragswyses word op so wyse deel van die leerders se lewenservaring wat sal bydra tot die sukses wat hulle as volwassenes kan bereik. 

Leermetodes

Alle effektiewe leer vind plaas wanneer leerders eers inhoud kinesteties, konkreet, op 2D-vlak en dan abstrak aanleer. 

aankoms

Huiswerk

Huiswerk word gegee sodat ouers kan kennis neem van die werk wat in die klas gedoen is. Ouers kan ook konsepte op grond hiervan inoefen.

Huiswerk word nie deur die personeel gemerk nie, memorandums word op Google Classroom geplaas, sodat werk tuis gekontroleer kan word.

Assessering

Assessering vind deurlopend plaas. Daar word nie spesifieke werk afgebaken wat “geleer” moet word nie.

Dit sal egter tot voordeel van leerders wees indien ouers toesien dat leerders die konsepte begryp en die vaardighede aanleer wat in die huiswerk voorkom.

ontdek

Rapporte & Oueraande

In die Grondslagfase word die eerste rapport persoonlik aan u as ouer oorhandig en kortliks bespreek. Die klasonderwyder sal ook ‘n aanbeveling doen indien dit nodig sou wees dat u as ouer ‘n ander vak se onderwyser behoort te spreek. Vir so bespreking of onderhoud, of vir enige saak wat meer tyd in beslag neem, kan u ‘n afspraak reël met die betrokke personeellid. Oueraande wat na die eerste kwartaal gereël word, vind op uitnodiging plaas. Indien u ‘n probleem het, is u ook welkom om gereëlde oueraande per afspraak by te woon.

Kommunikasie

U as ouer mag ongelukkig nooit onaangekondig by enige klas opdaag gedurende skooltyd nie. Dit is om verstaanbare redes. Die reël geld primêr vir die veiligheid van u kind, maar ook omdat ons verkies dat daar geen ontwrigting tydens klastye plaasvind nie.Alle persone wat die skool kom besoek, vir welke rede ookal, moet eers by Ontvangs aandoen, waar u gehelp sal word met enige versoeke. Sou u iets vir u kind kom aflaai, of u kind kom afhaal, sal die ontvangsdame u kind oor die interkom roep, nadat die nodige prodedures afgehandel is. Indien u met ‘n personeellid ‘n afspraak wil maak, kan u die skool skakel en ‘n boodskap en u nommer by die ontvangsdame laat, sodat die betrokke personeellid u so gou moontlik kan kontak. Indien ‘n personeelslid u wil kontak, sal ‘n afspraak ook telefonies gereël word. Kommunikasie vanaf die skool se kant, geskied meestal deur die skool se “D6 Connect” wat u op u selfoon en rekenaar kan aflaai. Die sisteem sal u waarsku wanneer daar enige veranderinge aan die program plaasvind, of wanneer daar sake is waarvan u dringend moet kennis neem. Die “D6 Connect” is die kernbron van inligting by Laerskool Hennopspark.

Hulpverlening

Akademiese hulpverlening vind op verskeie maniere plaas.Woensdae vanaf 13:30 tot 14:30 word individuele hulp aan leerders verleen. In die Grondslagfase sal ouers deur middel van die huiswerkboek of per brief in kennis gestel word dat ‘n leerder uitgenooi word na so ‘n sessie. Daar sal ook aangeteken word dat leerders so sessie bygewoon het, al dan nie. Leerders wat probleme ervaar kan ook die ekstra klasse bywoon. Die klas is gratis.By die Intersenfase word dieselfde prosedure gevolg. Ouers sal in kennis gestel word dat leerders versoek word om ‘n bepaalde klas by te woon. Dit word dan ook so aangeteken, indien leerders dit bywoon.Indien intervensie benodig word, sal ‘n onderhoud met ouers plaasvind en nadat die regte prosedure gevolg is, sal die leerder verwys word soos nodig.